Bette Davis

Bette Davis
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Davis in die 1940's.

Geboortenaam Ruth Elizabeth Davis
Geboorte (1908-04-05)5 April 1908
Sterfte 6 Oktober 1989 (op 81)
Nasionaliteit Amerikaans
Beroep(e) Aktrise
Aktiewe jare 1929–1989
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Ruth Elizabeth "Bette" Davis (5 April 1908 – 6 Oktober 1989) was ’n Amerikaanse aktrise van die silwerdoek, teater en televisie. Sy word beskou as een van die grootste aktrise in die geskiedenis van Hollywood,[1] en is bekend daarvoor dat sy bereid was om onsimpatieke, siniese karakters te vertolk. Sy het positiewe kritiek ontvang vir haar spel in verskeie genres, van moderne misdaaddramas tot historiese en periodeprente, en soms selfs komedies. Haar grootste sukses het sy egter in romantiese dramas behaal.[2]

Davis was die eerste vroulike president van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences en het die Oscar twee keer gewen. Sy was die eerste mens wat 10 Oscar-benoemings vir toneelspel gekry het en was die eerste vrou wat ’n prys van die American Film Institute gekry het vir haar lewenslange bydrae.

Haar loopbaan het verskeie insinkings beleef en sy het erken haar sukses was dikwels ten koste van haar persoonlike verhoudings. Sy was vier keer getroud; sy het drie keer geskei en een man aan die dood afgestaan. Sy het haar kinders as ’n enkelouer grootgemaak.

Haar laaste jare is gekenmerk deur ’n lang tydperk van siekte, maar sy het aanhou toneelspeel tot kort voor haar dood aan borskanker – sy het meer as 100 rolprent-, teater- en TV-rolle agter haar naam.

In 1999 is sy tweede geplaas op die AFI se lys van die grootste aktrises van die klassieke Hollywoodse rolprentwese.

  1. "Bette Davis Biography" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Junie 2019.
  2. Michele Bourgoin, Suzanne (1998). Encyclopedia of World Biography. Gale. p. 119. ISBN 0787622214.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search